Provence

Ligging van die graafskap van Provence in rooi bo-oor die moderne grense van Provence-Alpes-Côte d'Azur in pienk in moderne Frankryk.
Sononder oor die Promenade des Anglais, Nice

Provence (Frans: [pʁɔvɑ̃s], ) is 'n historiese landskap langs die Mediterreense kus van Suidoos-Frankryk, geleë tussen die Rhônevallei in die weste en Italië in die ooste. In die noorde word dit deur die landskap Dauphiné (région Rhône-Alpes) begrens.

Die huidige Franse naam is afgelei van die Latynse Provincia, soos hierdie deel van die provinsie Gallia Narbonensis in die omgangstaal van Romeine genoem is. In die Romeinse tydperk het 'n groot aantal veterane van die Romeinse leër hulle hier in nuutgestigte Romeinse nedersettings, sogenaamde coloniae, gevestig en sodoende bygedra tot die vinnige Romanisering van die gebied en die daarstelling van moderne Romeinse infrastruktuur – met paaie, brûe, waterleidings, Romeinse baddens, tempels, amfiteaters en ander geriewe.

Gedurende die 19de eeu het Provence se kusdorpe tot gewilde vakansieoorde ontwikkel wat welvarendes uit heel Europa gelok het. In 1834 het 'n Britse adellike, lord Brougham, Cannes met sy aangename Middellandse Seeklimaat as 'n geskikte verblyfplek gedurende die wintermaande ontdek. Steeds meer van sy welvarende landgenote het na Cannes gekom om die Engelse winternewels te ontvlug, en kort voor lank het ook welgestelde Franse en Russiese toeriste in sy voetspore gevolg.

In 1887 het die Franse romanskrywer Stéphen Liégeard (1830–1925), wat self lankal in vergetelheid geraak het, in een van sy werke 'n treffende naam aan die Alpekuslandskap van Provence gegee wat 'n sinoniem vir die plaaslike simfonie van kleure, betowerende landskapsvorme en luukse toerisme met alle moderne gerieflikhede geword het – Côte d'Azur, die Asuurblou Kus.[1]

  1. (de) Rolf Toman (red.): Provence. Kunst · Landschaft · Architektur. Potsdam: h.f. ullmann 2009, bl. 272

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search